History

Ons Geskiedenis

1851 – 1868

Die eerste skool in Humansdorp word in 1851 in die konsistorie van die NG-kerk begin op aandrang van mnr M.G. Human. In 1862 word ‘n skoolgeboutjie tussen die kerk en saal opgerig. Die kerkraad was verantwoordelik vir alle uitgawes asook die salarisse van die onderwysers.

1893 – 1898

Van 1893 af dra die regering op ‘n £-vir-£ stelsel by tot onderwys. Onder die nuwe wetgewing begin die “Humansdorp Undenominational Public School” in die skoolgeboutjie wat by die kerk gehuur word.

1914 – 1920

Op 4 April 1913 word die hoeksteen gelê vir verdere uitbreidings by die skoolgebou teen £2,183. As gevolg van die rol wat Alfred Milner in die Anglo-Boereoorlog vervul het verval die naam van die skool in onguns. Op voorstel van mnr C.W. Malan (later minister) verander die skool se naaam in 1914 na “Humansdorp Publieke Skool”. ‘n Tweede uitbreiding vind in 1918 plaas teen £1,800.

1868 – 1893

Kragtens ‘n onderwyswet wat in  1868 uitgevaardig word, word die helfte van onderwyssalarisse deur die staat betaal en die res deur openbare liggame. Die beheer van die skool word oorgeneem deur ‘n kommissie wat saamgestel is uit die openbare liggame. Die skoolgebou wat in 1880 met nog ‘n klaskamer uitgebrei word, word by die kerkraad gehuur. In 1892 word mnr CM van Coller die eerste leerder wat matrikuleer in Humansdorp.

1898 – 1913

In 1898 koop die dorpsbestuur 4 erwe by die kerk vir £850. Die kerkraad het reeds in 1897 die grond beskikbaar gestel  vir ‘n nuwe skool. Alfred Milner (later sir) word gevra om tydens sy besoek aan Humansdorp van 14-16 September 1897 die hoeksteen vir die nuwe gebou te lê. Hy kan egter nie aan die versoek voldoen nie maar stem in dat die skool se naam verander na “Milner Institute”. Die hoeksteen word gelê deur die magistraat, C.W. Andrews. Die gebou word voltooi in 1898 teen £1,950 en op 25 Julie 1898 word die nuwe gebou amptelik geopen deur die Superintendent-generaal van Onderwys, dr. Muir.

1920 – 1959

Vanaf 1920 staan die skool se naam bekend as Humansdorp Hoërskool. In 1930 word nog 4 klaskamers aangebou insluitende ‘n wetenskapkamer en houtwerkkamer teen £2,572. In 1939 word ‘n aparte skool vir die laer klasse gebou en so begin Laerskool Stulting tot en met graad 4 in 1940.

In  1940 open Lushof-koshuis sy deure met 78 koshuisgangers – seuns en dogters. In die vyftigerjare trek die dogters eers na Sonop in Alexanderstraat en later na Dagbreek in Du Plessisstraat.

In 1953 word ‘n regtervleuel aangebou teen £13,000, maar daar ontstaan weldra weer ‘n behoefte vir meer ruimte. In 1959 word besluit om ‘n nuwe skool te bou.

1959 – 2016

In 1959 begin die bouery van ‘n nuwe skool teen ‘n koste van £80,000. Die gelykmaak van gronde en aanlê van sportgronde kos ‘n verdere £10,000. ‘n Swembad word ook beplan teen ‘n koste van £6,000.

Op 29 Maart 1960 word Hoërskool Nico Malan geopen deur mnr J.N. Malan, LUK en later Administrateur van Kaapland, na wie die skool vernoem is a.g.v. sy reuse aandeel  in die totstandkoming van die nuwe skoolgebou. In 1961 word die langverwagte swembad ook ingewy asook die dogterskoshuis, Huis Meiring.

Verdere aanbouings en verbeterings word in 1983 voltooi met ‘n groter saal, nuwe administratiewe kantore, huishoudkundekamer, wetenskaplaboratorium, naaldwerkkamer en biblioteek. 

In 1998 word die klubhuis by die sportvelde ingewy en vanaf 2000 tot 2007 word nog 8 klaskamers aangebou as gevolg van die leerdertal wat geweldig toeneem. In 2007 word die dak oor die paviljoen gebou teen ‘n koste van R 476 805.

In 2012 beleef die skool ‘n groot laagtepunt toe 3 klasse, twee kantore en ‘n motorhuis afbrand. Dit word herbou in 2013 en daar word ook begin met die aanlê van nog ‘n hokkieveld.

Die klip-tradisie en waardes word ingestel in 2013 en word later uitgebrei met die baadjies wat vir graad 8 leerders aangetrek word aan die einde van hulle oriëntasie periode.

Na jare se versoeke vir beter veiligheidsomheinings word dit deur die departement van onderwys aangespreek in 2016 teen ‘n koste van ongeveer R 2 000 000. Vier nuwe krieketnette word ook opgerig.

2017 - 2025

Die 4 hoofleiers se baadjies verander na ligblou baadjies in 2017

2020 word skole as gevolg van die Covid-pandemie gesluit en moet planne beraam word met aanlyn klasse en afstandsonderrig wat geweldige uitdagings in die onderwys bring.

As gevolg van die Covid-pandemie kan Nico Malan nie sy 60ste bestaansjaar in 2020 vier nie. Daar word in 2022 by die groot klip in die voortuin ‘n NM 60 met draad opgerig wat gevul word met leerders se klippe wat aan die einde van gr 12 agtergelaat word.

Verbeterings

  • 2018 @Nico, ons eie klerewinkel, open
  • 2019 Twee nuwe geboude klaskamers tussen D en F blok
  • 2019 Nuwe 16 sitplek Quantum word aangekoop
  • 2020 Opgraderings van albei koshuise en woonstelle
  • 2022 Opgradering van die snoepie
  • 2022 Opgradering van die saal, voorportaal, badkamers en kombuis
  • 2022 Sekuriteitskamera’s op gronde
  • 2022 65 Sitplek Hino en Iveco busse word tweedehands aangekoop
  • 2023 Twee tydelike klaskamers agter E-blok
  • 2023 Verdeling van D4 in twee klaskamers 
  • 2023 Opgradering van al die badkamers om die swembad
  • 2024 Opgradering van administratiewe blok
  • 2024 Vergroting van personeelkamer
  • 2025 Opgradering van die klubhuis
  • 2025 Nuwe 35 sitplek Hino, 23 sitplek Crafter en 16 sitplek Quantum word aangekoop
Skoolwapen
Before After

Die oorspronklike skoolwapen van Humansdorp Hoërskool is aanvanklik gebruik, maar moes verander omdat heraldiek nie toelaat dat HSNM net oor die wapen geplaas mag word nie.

Die bekende heraldikus, dr. C. Pama, is verantwoordelik vir die ontwerp van die nuwe skoolwapen. Dit beeld die dinge waarin ons glo uit. Die vuurtoring staan sentraal en die flitsende ligstrale verleen trefkrag aan die leuse “Kennis Verlig”

Die Fleur de Lis en Kasteel is simbole wat afkomstig is van die familiewapen van dr. Nico Malan. Eersgenoemde is deur die Franse konings toegestaan vir voortreflike diens en laasgenoemde versinnebeeld standvastigheid in die Skepper, en trou teenoor die vaderland.

In 2024 is verdere instandhouding aan die gebou gedoen en die keramiek weergawe van die ou skoolwapen ontdek. Mnr Arno Wessels, wat toe pas aangestel is, het die nuwe wapen ook in keramiek aangebring

Skoollied

Van die Hanekam se kruine tot ons verre suiderstrand,
Van die Gamtooswateroewer tot aan Bloukransstroom se rand;
Oor die velde en die strome, deur die Tsitsikammabome
Kom ‘n roep tot hoof en hand.

Refrein:

Ons kom, ons kom, ons kom, ons kom
Kinders van, kinders van Hoërskool Nico Malan
Harte bly
U gewy
Hoërskool Nico Malan

Skoolhoofde

S.J van der Spuy1920 – 1945
F.H. Badenhorst1946 – 1954
S.C.A. Weich1955 – 1959
C.J. Coetzee1960 – 1969

1970 – 1984C.J. Beukes
1985 – 1994J.J.A. Parsons
1994 – 2011 P.J. Potgieter
2011 – 2025F.J. Lötz