Nico Malan speel in die O.P.-skoleliga gholf tesame met 16 ander skole. Ons is weer soos die vorige jare een van die topspanne in die O.P. In die liga verloor ons slegs een wedstryd en speel ook een gelykop teen Grey. Ons eindig tweede naas Grey in die liga. Vyf spelers is in die top 12 van al die O.P.-skolespelers, naamlik: Jacques Colananni, Pietie Loubser, Theo van Wyk, Tiaan Harmse en Armandt Landman. Tydens die interskole-wedstryde teen D.F. Malherbe wen ons ver.
Nico Malan speel gedurende die jaar teen verskillende ander skole regoor Suid-Afrika. In 'n Noord-Suid-toernooi op Bushman Sands en St Francis Links speel Nico Malan en Grey teen St Johns en St Stithians van Gauteng. Ons verloor met 1 hou teen St Stithians, maar wen met 3 houe teen St Johns.
In die jaarlikse Cape Schools-toernooi in die Suid-Kaap speel ons op die bane van Knysna, Plettenbergbaai en Goose Valley. Nico Malan is in 'n verwoestende bui en klop Wynberg 7 - 2, Rondebosch 7 - 2 en SACS 6 - 3. In die toernooi wen ons 20 wedstryde en verloor slegs 7.
Landbouskool Oakdale (Riversdal) toer na die Kouga en ons speel teen hulle op St Francis Links. Nico Malan wen die kragmeting oortuigend.
Goeie individuele prestasie word behaal deur Theo van Wyk en Pietie Loubser. Theo speel in die Dale Hayes Toernooi vir die O.P.-streek op Humewood en wen die toernooi oor twee rondtes. Hy neem daarna deel in die nasionale Dale Hayes-finaal in Gauteng en eindig gesamentlik vierde. Hy speel ook baie goed in die O.P. Junior Gholfstigtingtoernooie en word vir die O.P. o/18 gekies, maar moes egter onttrek om in die Dale Hayes-finaal te speel.
Pietie Loubser neem deel aan die S.A. Juniors o/18 in George. Dit vind plaas oor 4 rondtes waar die top 120 juniors in Suid-Afrika meeding. Hy speel baie goeie gholf en eindig 16de. Hy vaar die tweede beste van al die spelers van die O.P. Hy neem ook deel aan S.A. meriete-orde-toernooie en kwalifiseer vir die S.A. Beurtspel (b-afdeling). In die wedstryd vir Nico Malan teen Oakdale speel hy 'n ware kapteinsrondte van 5 onder baansyfer op St Francis Links.
Tiaan Harmse, ervare O.P.-skolespeler speel vir Humansdorp in die senior premierliga. Hy is ook Humansdorp gholfklub se naaswenner van die klubkampioenskap in houe- en beurtspel.
Nico Malan se gholfspan verloor volgende jaar uitstekende spelers wat vir vyf jaar die skool met groot sukses verteenwoordig het. Pietie en Tiaan het albei O.P. verteenwoordig in die o/14, o/16 en o/18 O.P.-skolespan. Hulle sal baie gemis word en laat 'n groot leemte in skolegholf.
Groot dank aan mnr. Christo Harmse vir sy bydrae om te help dat gholf op hoë standaard gehandhaaf kan word. Dank aan mnr. Albie Loubser vir ondersteuning en bystand, veral met die toere.
Ons wil ons Hemelse Vader bedank vir die seënende hand van bewaring oor ons waar ons ook al beweeg het. Baie dankie vir die skool se ondersteuning en erkenning van die spelers se prestasies.
Organiseerder: H.H. Vermeulen
2011 Uitslae
Tiaan Wansink, 'n graad 12-leerder van Hoërskool Nico Malan het onlangs aan die Sanlam Kanker Gholfdag deelgeneem by Zwartenbosch Gholfklub. Uit 'n veld van 60 plus spelers het hy dit reg gekry om deur te druk en sy talente te wys. Tiaan het 'n baie goeie rondte 70 houe (-2 onder baansyfer) gespeel en het 'n 2de plek behaal.
Foto geneem deur Christa Ferreira
|
|
FNB Classic Clashes 2011 Nico Malan 173 Framesby 198 Tiaan Wansink en Wian Pienaar (51 betterball) Armandt Landman en Daniël Rossouw (49 betterball) |


Foto geneem deur Christa Ferreira