Inicol
NICO MALAN IN 2011 WEER INICOL!
Nuwe jaar, nuwe dinge..! En 'n nuwe INICOL-span om al die nuwighede in 'n nuwe INICOL weer te gee sodat man en muis binne en buite die skool se mure kan sien: NICO MALAN sit nie stil nie!
En so sien die eerste INICOL van 2011 dan ook die lig op 5 Mei 2011, met 'n nuwe redaksie wat nie kon wag om hul koppe vol idees op papier vas te lê nie. Dis dan ook die span wat elke Woensdag 1ste pouse daardie einste koppe kom bymekaar sit om met net die beste resultaat vorendag te kom:
Marochelle Geldenhuys (redaktrise)
Marcia Boyens (subredaktrise)
Abrie de Koning (fotograaf)
Alissa Jooste
Ciske Vorster
Shirley-Louise du Plessis
Louise du Plessis
Jo-Mari Ferreira
Jacolien Voges
Elrine Steyn
Elke redaksielid het onder die leiding van 'n inspirerende Marochelle, volstoom ingeklim en met entoesiasme en uitstekende beheer die INICOL-medewerkers geïnspireer om elk op sy unieke manier onderhoude te voer, verslae in te bring en berigte te skep wat 'n getroue weergawe kon vorm van die 1ste kwartaal se Nico Malan-doen-en-late.
Ook is daar kliphard gewerk om advertensies en borge te kry en 'n suksesvolle koekverkoping is gehou wat die redaksie in staat gestel het om 'n 16-bladsy-koerant daar te stel - propvol nuusdinge en in vol kleur!
Maar wat is nuus sonder foto's wat sê: Ons sien jou raak! Die INICOL-redaksie is dan ook bevoorreg om hierdie jaar 'n voltydse fotograaf in die vorm van Abrie de Koning te hê wat met sy kamera-oog oral op die loer is vir 'n aksiebelaaide skoot! So poog INICOL om soveel as moontlik leerders in elke uitgawe op 'n foto vas te vang, om weer te gee hoe ELKE Nico Malanner betrokke is by Nico Malan-oomblikke dwarsdeur die jaar!
Maar die redaksie weet ook dat niks vermag kan word sonder 'n ewe entoesiastiese persoon wat alles wat ingesamel word, op elke bladsy kan vaslê nie! En dié kwartaal is die ervare Elize Pretorius die een wat verantwoordelik was vir die prettige, kleurryke INICOL, deurdat sy met dae en nagte se ywer die bladuitleg suksesvol en behendig hanteer het - met 'n INICOL-wat-vir-niks-skrik-nie as eindresultaat!
Die redaksie se visie is om die INICOL 'n beelddraer van Nico Malan te maak, sodat die leerders en gemeenskap trots op en ingelig kan wees oor die doen en late van Nico Malan en sy leerders. INICOL staan in diens van die leerders van Nico Malan, en hoop om die gees en karakter van die skool getrou en betroubaar weer te gee!
En met so 'n ywerige en kreatiewe span redaksielede, wat bereid is om die hele jaar te midde van ander verpligtinge die adrenalien te laat pomp en by spertye te hou en kreatiwiteit tot uiting te bring, is so 'n visie beslis haalbaar!
Organiseerders: Elize Heystek en Antoinette Steenkamp
Tel: 042 295-1130 / 295-2487
Fax: 042 291-0411 / 086 697 5661
E-Pos: nicomalan@gmail.com
Sluit aan by ons Facebook-groep: Nico Malan High School

